About the Author(s)


Paul Krüger Email
Faculty of Theology, North-West University, South Africa

Citation


Krüger, P., 2016, ‘“Het u net een seën?”: Vrede as oorvloeiseën as tema in Genesis 12–50’, In die Skriflig 50(3), a2053. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i3.2053

Original Research

‘Het u net een seën?’: Vrede as oorvloeiseën as tema in Genesis 12–50

Paul Krüger

Received: 31 Oct. 2015; Accepted: 31 Mar. 2016; Published: 27 July 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

‘Have you but one blessing?’: Peace as overflow of blessings in Genesis 12–50. A theme often overlooked in the patriarchal history (Gn 12–50) is the blessings bestowed on individuals outside the covenantal lineage, for example Ishmael and Esau. This article considers how blessings, promised to the patriarchs, also brought peace and benefits to individuals who were assimilated into the covenant as well as to divarications of the covenantal lineage, and to individuals with whom the patriarchs interacted in civil society. Blessings, promised to Abraham’s descendants, had a spiralling effect and universal tendency.

Inleiding en begrensing

Nadat Jakob op ’n bedrieglike wyse die seën van sy vader Isak ontvang het, pleit Esau ernstig by Jakob: ‘Het u net een seën, my vader? Seën mý ook, my vader!’ (Gen 27:38).1 Dit laat die vraag ontstaan of daar volgens die teks van Genesis net primêre seëninge is wat vir die hooflyn van die aartsvaders se nageslag bedoel is, en of daar ook sekondêre seëninge vir persone buite hierdie hooflyn geld. Is daar net een seën, ’n voorkeurseën, of getuig die teks ook van ’n tweede seën, spesifiek vir mense wat aan die hooflyn verwant is?

Vir die beantwoording van hierdie vraag konsentreer hierdie artikel spesifiek op Genesis 12–50, die sogenaamde aartsvadervertelling of verbondsgeskiedenis.2

Die aartsvadervertelling vorm die inleiding tot die makrovertelling (grand narrative) van Israel in die sogenaamde Henneateug, naamlik die Pentateug en die Vroeë Profete. Hoewel hierdie artikel op die aartsvadervertelling fokus, word die sekondêre seën ook in die lig van die makrovertelling beskou. Die klem val op die sogenaamde teologie in Genesis 12–50 eerder as om te let op historiese vrae soos die ontstaan van die boek Genesis, die eerste lesers of die werklikheid waarna die vertelling verwys.

Begrippe

Voordat die tema van ’n sekondêre seën in Genesis 12–50 nagegaan kan word, is dit nodig om enkele begrippe van nader te beskou.

Seën as aksie

Die inleiding tot die aartsvadergeskiedenis stel die tema van seën aan die orde. Die res van die vertelling word daardeur beheers.

Die begrip seën, hetsy deur die werkwoord ךרב [seën] of die naamwoord הָכָרְבּ [seëning] uitgedruk, word in die eerste plek as aksie, as daad, verstaan waarvolgens sekere dinge vir iemand oorgedra word. Hierdie oordrag kan by wyse van ’n belofte of wens wees. Dit kan ook nie-verbale oordrag van sake wees soos wanneer ’n mens iemand met ’n gawe seën.

Sesvoudige seën

Toe Abraham3 geroep is om na die land te trek wat die Here hom sou wys, het die Here vyf dinge aan hom belowe (12:2–3). By sy aankoms in Kanaän (12:7) het die Here ’n sesde saak4 daaraan toegevoeg:

לוֹ֔דָגּ יוֹ֣גְל ֙ךְָשֶׂעֶֽאְו 1 12:2a Ek sal jou ’n groot nasie maak
ךְָכֶרָ֣בֲאַו 2 12:2b Ek sal jou seën.
הָֽכָרְבּ הֵ֖יְהֶו ךֶָ֑מְשׁ הָ֖לְדַּגֲאַו 2 12:2c Ek sal jou naam groot maak5 sodat6 jy7 [vir ander] ’n seën sal wees.
רֹ֑אאָ ֖ךְָלֶלַּקְמוּ ךָיֶ֔כְרָ֣בְמ ֙הָכֲרָֽבֲאַו 4 12:3a Ek sal hulle seën wat jou seën, maar hom vervloek wat jou minag.8
הָֽמָדֲאָה תֹ֥חְפְּשִׁמ לֹ֖כּ ֔ךְָב וּ֣כְרְבִנְו 5 12:3b In jou sal9 al die geslagte van die aarde geseën word.10
תאֹ֑זַּה ץֶרָ֣אָה־תֶא ןֵ֖תֶּא ֔ךֲָעְרַ֨זְל 6 12:7 Aan jou nageslag sal ek hierdie land gee.

Hierdie beloftes word telkens teenoor Abraham herhaal, byvoorbeeld in 13:14–17; 15:4–8; 18–21; 17:4–8; 17:15–19. Hoewel hierdie beloftes nie uitdruklik seëninge genoem word nie, is elk ’n seënspreuk. Die werkwoord ךרב en naamwoord הָכָרְבּ word uitdruklik in vier van die ses beloftes gebruik om die inhoud van die belofte aan te dui.

Genesis 12–50 word grootliks deur die belofte van ’n oorvloedige nageslag beheers (punt 1 in die tabel), terwyl die res van die Pentateug oor die realisering van die landseën handel (punt 6 in die tabel). In die groter narratief word die seëninge van ’n nageslag sowel as dié van ’n land bedreig. Die einde van die Henneateug getuig van die verlies van die land. Die Judeërs staan in gevaar om ook as onderskeibare volk te verdwyn soos dit met die noordelike tienstammeryk gebeur het.

Die seëninge raak egter nie net die eie groep nie, maar ook die mense met wie die groep in aanraking kom. Wanneer belowe word dat Abraham vir ander tot seën sal wees, beteken dit dat ander sal deel in die seën wat hy geniet.

Seënspreuke

Genesis 12–50 word, afgesien van die grondliggende beloftes waarna pas verwys is in byvoorbeeld 14:19; 24:60; 32:29 en 48:15, gekenmerk deur die plegtige uitspreek van seën teenoor verskillende mense by verskillende geleenthede.

In Wes-Europese tale word die begrip seën (sowel werkwoord as naamwoord) in ’n positiewe sin verstaan. Die Hebreeuse begrip kan ook ’n negatiewe seën insluit (De Hoop 1999:73). Jeremia vervloek byvoorbeeld sy geboortedag en stel die vloek gelyk met ‘nie geseënd wees nie’ (Jer 20:14). Job se vrou moedig hom aan om God te seën waarmee sy bedoel dat hy God moet vervloek (Joh 2:9).

’n Seënspreuk is nie bloot ’n wens nie, maar word in Genesis 12–50 performatief gebruik wat beteken dat die seënspreuk sekere voordele in werking stel,11 hetsy in die hede of in die toekoms. Daarom kan ’n seën ook nie werklik ongedaan gemaak word nie soos byvoorbeeld Isak se seën aan Jakob (27:30–36).

Seën in die algemeen

Seën is nie tot die uitspreek van seënspreuke beperk nie. Alle positiewe beloftes is toeseggings van seën en kan as seënspreuke beskou word, ongeag of dit met die term ךרב of הָכָרְבּ aangedui word of nie.

’n Persoon kan ook tot seën wees sonder dat daar beloftes gegee of toeseggings gemaak word. Abraham ontvang die belofte dat hy vir ander tot seën sal wees (12:2c). Dit beteken dat hy deur dít wat hy doen of deur wie hy is, vir ander mense tot seën sal wees. As ander mense hom seën of vervloek (12:3a), hoef dit insgelyks nie by wyse van seën- of vloekformules te geskied nie. Dit blyk reeds uit die formulering van die derde seën, naamlik dat die Here hóm wat Abraham bloot minag (ללק Pi), sal vervloek (12:3a).

In Genesis 12–50 is daar voorbeelde van aktiewe en passiewe seën:

  • Die aartsvaders is in aktiewe sin vir ander tot seën wanneer hulle sekere dinge doen wat ander mense tot voordeel strek soos byvoorbeeld Abraham wat vir Lot red (14:14–16) of Josef wat ’n hongersnood voorkom (41:42–57; 47:13–26).
  • Die aartsvaders is ook in passiewe sin vir ander tot seën op grond van wie hulle is, naamlik ontvangers van die Here se seën. Die Here kan mense rondom hulle selfs seën ten spyte daarvan dat die aartsvaders verkeerd opgetree het. Die Here seën só die seun van die slavin Hagar bloot omdat hy Abraham se kind is (21:3).
Seën as inhoud

Die begrip seën word ook as inhoud verstaan, naamlik dít waarmee iemand geseën word.

In Genesis 12 gee seënspreuke 1, 3 en 5 ’n aanduiding wat die inhoud van die seën is, naamlik ’n groot nageslag, roem (’n groot naam) en ’n land. Abraham word geseën met vrugbaarheid, ’n sosiaal-invloedryke rol en lewensruimte. Vervloekings, daarenteë, hou verband met die gebrek aan of verlies van ’n nageslag, betekenisvolle invloed en ’n vaste woonplek (4:11–12, 49:7; vgl. ook Ps 109:9–10, 13; 137:9).

Seën het dus’n lewe van voorspoed as inhoud.12 Wanneer Jahwe iemand seën, beteken dit dat Hy lewenskrag, welstand, vervulling en vrugbaarheid aan die persoon verleen (Scharbert 1973:826). Hy gee omstandighede waarin lewe in sy volheid kan gedy. Vloeke, die teendeel van seëninge, handel oor die slegte, teenspoed, versteurde verhoudings, gebrek en dood.13 Soos verder in die artikel aangetoon word, bevat sommige seënspreuke ook bedekte vervloekings, wat ‘anti-seëninge’ genoem kan word.14

Hoewel die naamwoord הָכָרְבּ gebruik word om seën-as-inhoud aan te dui, word ook ander Hebreeuse woorde gebruik om die algemene inhoud van seën, naamlik ’n lewe van voorspoed, aan te dui, waaronder lewe (היח),15 vrede (םוֹלָשׁ),16 guns (ןֵח) en trou (דֶסֶח).17 Waar היח veral uiterlike bestaan aandui, dui םוֹלָשׁ by uitstek op betekenisvolle lewe. Die woord םוֹלָשׁ dui nie slegs die afwesigheid van stryd tussen persone aan nie, maar sluit ’n wye spektrum van begrippe in soos voldoening, volledigheid, vervulling, welsyn (heil), tevredenheid en voorspoed (DBLSD 2001:8932; DCH VIII 2011:365; Gerleman 1976:923, 930; HALOT 2000:1507–1510; Nel 1997:131). So dui dit op die behoud van lewe en die skep van omstandighede waarin lewe in volheid kan gedy.

’n Belangrike aspek van םוֹלָשׁ is betekenisvolle verhoudings. Hoewel die woord םוֹלָשׁ nie spesifiek gebruik word nie, is dit betekenisvol dat seënspreuk 3 op die verlening van spesiale voorregte of voorrang binne ’n sosiale verband fokus. Dit vind weerklank as Jakob bo sy broer geseën word (25:23) en Juda bo sy broers uitgesonder word (49:8). Spesiale voorregte of voorrang wat iemand ontvang, bepaal die sosiale struktuur waarbinne die persoon (of sy nageslag) sal lewe. In die geval van die hooflyn van die aartsvaders (sien volgende punt) beteken seëninge die bevestiging van voorrang.

Wanneer die res van die artikel na םוֹלָשׁ verwys, word die generiese inhoud van die begrip seën bedoel, selfs waar die woord םוֹלָשׁ nie uitdruklik in die teks voorkom nie. Die generiese inhoud van seën behels die volgende betekenisse van םוֹלָשׁ:

  • Die goeie lewe wat getuig van die Here se seën (vgl. DCH VIII 2011:365).
  • Alles wat iemand as inhoud van die seën sou kon begeer (Stendebach 1995:18).
Hooflyn

Die Here kies en roep ’n bepaalde persoon, Abraham (12:1 vv.). Die nageslag wat aan hom belowe word (12:2a) en wat uiteindelik uit hom voortkom, vorm die hooflyn van die aartsvaders se nageslag. Die beloftes aan die aartsvaders is spesifiek vir hulle bedoel. Die aartsvadergeskiedenis konsentreer op die hooflyn, terwyl daar dan minder aandag gegee word aan nasate van sekondêre lyne, byvoorbeeld die nageslag van Ismael en Esau.

Aangesien die primêre lyn op ’n besondere manier uitgekies is om seën te ontvang, is hulle terselfdertyd die uitverkore geslag (vgl. 18:19). Aangesien die Here met Abraham en sy nageslag ’n verbond opgerig het (17:7), word ook van die verbondslyn gepraat.

Die primêre lyn as ontvangers van die seën wat aan Abraham belowe is, word in die loop van Genesis 12–50 al hoe nader gedefinieer.18 Die patroon is dat daar by wyse van ’n proses van afsplitsing, slegs een seun as erfgenaam van die beloftes oorbly (Arnold 2009:195, 308). By Jakob se seuns word dit in ’n sekere sin wel uitgebrei, maar in ’n ander sin tot twee seuns beperk. Die nadere definisie verloop soos volg in Genesis 12–50:

  • Die seëninge geld nie vir al Abraham se kinders nie, maar in besonder vir Isak. Hý is die erfgenaam van die verbondsbeloftes en seëninge (17:19; 25:10), nie die dienaar Eliëser (15:2), of Ismael (17:20–21; 21:12–13), of die kinders by Ketura nie (25:6). Sommige van die beloftes wat aan Abraham gemaak is, word uitdruklik aan Isak herhaal (26:2–5).
  • Die seëninge geld nie vir albei Isak se kinders nie, maar in besonder vir Jakob. Hý is die kind van die belofte, nie Esau nie (25:22; 27:28). Sommige van die beloftes wat aan Abraham gemaak is, word uitdruklik aan Jakob herhaal (28:3–4; 28:13–15; 35:11–12).
  • Die seëninge geld wel vir al Jakob se kinders, maar in besonder vir Josef deur Efraim (48:17–20), asook vir Juda (49:8). Dat Efraim en Juda se nasate ’n besondere posisie beklee, word teen die einde van die Pentateug se historiese deel bevestig toe juis die twee verkenners uit die stamme Efraim en Juda ’n positiewe standpunt inneem oor die landinname (Num 13:6, 8; 14:6–9). Juis húlle aanvaar die inhoud van die seën wat die Here belowe het. Efraim en Juda is in die makrovertelling die leidende stamme van onderskeidelik die Noord- en Suidryk.
  • Daar is in ’n verdere verbesondering van die belofte, naamlik dat uit die stam Juda, Dawid se nageslag die koningskap ontvang. Die besondere seën aan Dawid is verbondstrou (דֶסֶח). Die die Here sal sy verbondstrou nie aan hom onttrek nie (2 Sam 7:12–16). Hierdie belofte is nie slegs ’n verbesondering tot ’n bepaalde geslagslyn nie, maar dit handel ook oor ’n spesifieke belofte, naamlik heerskappy (hierbo as derde belofte aangedui).
Oorvloeiseën

In hierdie artikel word die sekondêre seën aan persone buite die hooflyn van die aartsvaders se nageslag ’n oorvloeiseën genoem. Seëninge wat primêr aan die aartsvader toegesê is, vloei oor na persone wat buite die verbondslyn is.

Die sesvoudige seën in Genesis 12:2–3 en die uitwerking daarvan in die aartsvadergeskiedenis kan as konsentriese sirkels voorgestel word soos in Figuur 1 aangedui word.

  1. Seënspreuk 2 (12:2b) hou in dat Abraham self seën sal ondervind. Dit gaan om persoonlike seën. Die feit dat Abraham baie ryk aan vee, silwer en goud was (13:2), dien as voorbeeld dat hy ook in stoflike dinge die Here se seën geniet het. Persoonlike seën word later ook aan Isak (26:3, 24), Jakob (27:28; 28:15; 32:29) en Josef (39:3, 23) belowe of by hulle opgemerk. Persoonlike seën hou in dat die Here met (םִע of תֵא) iemand sal wees (21:22; 26:3, 24; 28:15; 31:1; 39:3, 23).

  2. Die seën strek ook verder. Seënspreuk 1 (12:2a) en 6 (12:7b) het betrekking op oorgeërfde seëninge: Die nageslag sal ’n groot nasie word, ’n land ontvang en só seën ondervind. In die verdere bespreking word na hierdie seën as die familieseën verwys.

    Die familieseën (die tweede sirkel) sluit persoonlike seën (die eerste sirkel) in, aangesien die aartsvaderlike seëninge oorerflik is.19 Die uitverkore familie deel in die persoonlike seën.

    Daar is egter ook families wat nie van nature deel is van die uitverkore geslag of wat nie meer deel daarvan is nie. Aspekte van die familieseën loop oor na hierdie familie, aangesien hulle familie word of verlangs familie is. In die verdere bespreking word op hierdie breër familie gefokus.

  3. Seënspreuke 3 tot 5 gaan daaroor dat onverwante mense met wie die aartsvaders en hulle nasate te doen kry, ook seën ontvang. Hierdie oorvloeiseën word in die verdere bespreking verder onderskei.

    1. Wanneer mense seën ontvang weens hulle direkte kontak met die aartsvaders, word van assosiaatseën gepraat. Seënspreuk 3, en veral seënspreuk 4, handel daaroor.

    2. Wanneer die seën na al die geslagte van die aarde uitgebrei word (seënspreuk 5), word gepraat van universele seën. Abraham en sy nageslag bring seën aan ander mense. Die Here kan mense rondom hulle seën ten spyte daarvan dat hulle verkeerd opgetree het. Hulle is vir ander tot seën bloot op grond van wie hulle is, naamlik ontvangers van die Here se seën. Die roem van die hooflyn (die koningseën, seënspreuk 3), bring in besonder seën in wyer kringe as die aartsvaders se familie en vriende.

FIGUUR 1: Die sesvoudige seën in Genesis 12:2–3.

Familieseën

Genesis 12–50 dui keer op keer aan dat persone wat in die familie van die aartsvader opgeneem word of dié wat van die hooflyn afsplits, deel in die seëninge wat aan die aartsvaders belowe is.

Opname in die familie

By die keuse van huweliksmaats vir Isak (24:2–4, 37–38), Esau (26:34–35, 27:45) en Jakob (28:1) blyk dit dat die sogenaamde uitverkore geslag aanvanklik afwysend teenoor die inwoners van die beloofde land gestaan het. Die rede is waarskynlik hulle klein getal wat kon meebring dat hulle verswelg word.

Die kinders van Jakob trou egter met vroue uit die plaaslike heidenvolke sonder enige aanduiding dat die sogenaamde uitverkore geslag afwysend daarteenoor staan. Josef trou selfs met Potifera, die dogter van die priester van On (41:45). ’n Mens sou kon redeneer dat die verskuiwing van die aartsvaders na Egipte (45:9–13; 46:2–7, 28–34) moes dien om assimilasie met die bevolking van Kanaän wat afgode dien, te voorkom (Waltke 2001:516). Die Pentateug voer dit egter nie as argument aan nie. Die teendeel word eerder geïmpliseer, naamlik dat vreemde vroue juis ingesluit word by die heilige geslag. Hulle sowel as kinders wat uit die huwelike gebore word, deel ten volle in die verbondseëninge van die aartsvaders.

Sytakke van die familie

Vir die nageslag wat uitgesluit word in die proses van die verbesondering van die verbondslyn en dus sytakke, ‘randfigure’ (Paul, Van den Brink & Bette 2004:377) of ‘doodloopstrate in die gewyde geskiedenis’ (Wenham 1994:165) verteenwoordig, is daar ook seën: ’n mindere seën wat oorvloei vanaf die uitverkore geslag.

Oorvloeiseën van Abraham

Abraham se seun Isak, gebore uit Sara, word die erfgenaam van die beloftes (vgl. Gen 18:10; 21:12). Tog ontvang Abraham se seun by die slavin Hagar heelwat aandag in die Abrahamsiklus waar aangedui word dat ook hý seën ontvang.

Die Engel van die Here het voor sy geboorte ’n besondere seën vir Ismael gehad. Dieselfde woorde as in die belofte aan Abraham word gebruik: Hagar se nageslag sal ontelbaar wees (16:10; vgl. 21:13, 18). Ismael self ontvang ook seën: Hy sal ’n groot nasie word en heersers sal van hom afstam (17:20). Die belofte dat hy ’n groot nasie sal word, word gemotiveer deur die feit dat hy Abraham se kind is (21:13). Daar word ook spesifiek gesê dat God met hom was (21:20); ’n tipiese aanduiding van God se beskerming, voorsiening en gawe van voorspoed (Arnold 2009:197). Hoewel Ismael ’n ‘sytak’ in die verbondslyn verteenwoordig, staan hy nie totaal buite die verbond nie. Hy is nie die uitverkore seun nie, maar die kosbare seun (Brueggemann 1982:183) wat in die seëninge van die verbond deel.20

Na die berig dat Ismael saam met sy halfbroer, Isak, vir Abraham begrawe het (25:9), sou ’n mens die geskiedenis van Isak, die seun van die belofte, verwag. Daardie geskiedenis begin eers in 25:19, nadat die geslagsregister van Ismael gegee is (25:12–18). Hierdie ‘anomalie’ is volgens Van Selms (1986:55) die groot voetnoot van die Abrahamsiklus voordat die meer uitvoerige verhaal van Isak (naamlik die tôlĕdôt van Abraham) weergegee word. Volgens Waltke (2001:481) is die invoeging van die tôlĕdôt van Ismael eerder die begin van die Isakvertelling. Die verworpe geslagslyn kom dan in die Isakvertelling aan die beurt vóór die tôlĕdôt van Isak. Waltke se verklaring is onwaarskynlik, aangesien die tôlĕdôt van Ismael, volgens die aartsvadergeskiedenis se patroon, ’n geskikte afsluiting van die Tera-tôlĕdôt moet wees, eerder as die begin van die Isak-tôlĕdôt.21

Twaalf vorste stam van Ismael af, soos daar ook twaalf stamvaders van Israel (35:23–26) afstam.22 Ismael verlaat die vertelling met ’n bevestiging dat ook hy die vader van ’n groot nasies sal wees (Alter 2004:127).

Ismael deel op ’n besondere manier in die seën wat aan die aartsvaders belowe is. Sy genealogie eindig met die vermelding van ’n lang lewe, nie-gewelddadige dood en ’n begrafnis (die uitdrukking: versamel by sy volksgenote) (25:8–9), wat kenmerkend is van persone wat die seën van die Here geniet (Currid 2003:437).

Aan die ander kant is die seën wat Ismael ontvang ’n troosprys. Die ondergeskiktheid van Ismael se verworpe geslagslyn blyk daaruit dat een geslag oorgeslaan word: Die Ismael-lyn word nie as tôlĕdôt van Abraham aangedui nie, maar as dié van Ismael, terwyl sy halfbroer se lyn wel as tôlĕdôt van Abraham aangedui word (Van Selms 1986:55). Die ‘seën’ wat Ismael ontvang, bevat ook ‘anti-seëninge’ of verskuilde vervloekings. Hy sal ’n wilde-esel van ’n man wees met sy hand teen almal en almal se hand teen hom. Hy sal teenoor al sy broers leef (16:12). Hoewel hy ’n oorvloeiseën ontvang, sal daar nie van hom af verder seën na ander vloei nie. Omdat hy aan die een kant soortgelyke seëninge as Isak ontvang, maar aan die ander kant geen land ontvang en ook geen ware םוֹלָשׁ nie, is Ismael die teëhanger (foil) van Isak (Waltke 2001:344).

Abraham het nog ’n vrou geneem, naamlik Ketura.23 In verband met hierdie mededeling word genoem dat Abraham alles wat hy besit het aan Isak gegee het, maar dat hy aan die seuns van die byvroue geskenke gegee het (25:6). Daarmee word aangedui dat Ketura saam met Hagar die status van ’n byvrou (שֶׁגֶלִפ) gehad het.

Slegs Isak, die erfgenaam van die hooflyn, ontvang die erfgoed en die eintlike seën. Die seuns van die byvroue, wat die sytakke van die verbondslyn verteenwoordig, ontvang die ‘oorvloeiseën’. Die geskenke (תֹנְתַּמ) wat elkeen ontvang het, was bedoel as ’n tipe troosprys. HALOT (2000:655) noem dit ’n ‘gift as an indemnity’, dit wil sê ’n afkoopprys dat hulle nie saam met Isak erf nie.

Daar word verder min aandag gegee aan die ses kinders wat uit Ketura gebore is. Met die uitsondering van die Midianiete, speel hulle nageslag geen beduidende rol in die makrovertelling van Israel nie.

’n Tema wat ook by verdere afsplitsings van die verbondslyn voorkom, is dié van territoriale skeiding. Die seuns van Abraham se byvroue is na die ooste weggestuur (25:6). Ismael se nageslag het in woestynagtige gebiede gaan woon (25:18).

Oorvloeiseën van Isak

Isak se vrou Rebekka het tweelingseuns in die wêreld gebring: Esau en Jakob. Reeds voor hulle geboorte het die Here vir Rebekka gesê dat die oudste die jongste sal dien (25:23). Daardeur is aangedui dat Jakob, die jongste, die erfgenaam van die verbondseëninge sal word. Die voorspelling realiseer wanneer Esau sy eerstegeboortereg aan Jakob verkoop (25:33) en Jakob deur bedrog dit bewimpel dat Isak hom in plaas van Esau seën (27:1–27).

Die seën wat Isak oor Jakob uitspreek, herhaal elemente van seën wat Abraham direk van die Here ontvang het. Twee generiese seëninge word genoem: Jakob sal oorvloed as opbrengs van die grond ontvang (27:28). Hierdie seën is ’n algemene seën van voorspoed, van םוֹלָשׁ, sonder dat die moontlikheid van ’n eie grondgebied genoem word. Verder sal diegene wat hom vervloek, self vervloek wees en dié wat hom seën sal geseënd wees (27:29).

Een spesifieke belofte van seën aan Abraham word uitgebrei en spesifiek op Jakob van toepassing gemaak: ‘Volke sal jou dien, en nasies sal voor jou neerbuig. Jy sal ’n heerser oor jou broers wees en die seuns van jou moeder sal voor jou neerbuig’ (27:29). Daardeur word sy voorrang as erfgenaam van die verbondsbeloftes bevestig. Hierdie seën het egter op Jakob se nageslag betrekking, want volgens Genesis 12–50 was Jakob self nie ’n heerser nie en was daar nie broers (meervoud) wat voor hom kon neerbuig nie.

Toe Esau besef dat hy die seën verbeur het, dring hy driemaal by Isak daarop aan dat ook hý geseën word (27:34, 36, 38). Die seën wat hy ontvang, is eintlik die teendeel van Jakob se seën, sodat dit wesenlik ‘anti-seëninge’ of vloeke is: Hy ontvang nie ’n woonplek met ’n goeie opbrengs nie en hy sal van sy swaard lewe (27:39–40). ’n Geseënde lewe sal hom met ander woorde ontwyk en as persoon wat met geweld leef, bring hy ook nie seën aan ander nie. Sy posisie is soortgelyk aan dié van Ismael: Sonder sy vader se seën van politieke heerskappy moet hy homself deur geweld handhaaf (Alter 2004:145).

Die makrovertelling van Israel getuig van die vyandskap tussen die nageslag van Jakob (Israeliete) en dié van Esau (Edomiete) (Num 20; 1 Sam 14:47; 1 Kon 11:14–25). In die Laat Profete is daar ook verskeie profesieë teen die Edomiete, byvoorbeeld Joël 3:19, Obadja en Maleagi 1:1–4. Die uitspraak in Psalm 137:7–9 weerspieël ’n baie sterk afkeer by die Judese ballinge jeens die Edomiete.

Tog word Esau redelik positief geskets in Genesis (vgl. Brueggemann 1982:285–287; Paul et al. 2004:375). In Deuteronomium 23:7 word gestel dat sy nageslag vir die Israeliete ’n broedervolk is wat nie verag mag word nie (vgl. ook Num 20:14). Westermann (1981:692) noem Esau se nageslag die volk wat die naaste aan Israel verwant is. Die besondere plek wat Genesis 36 aan die nageslag van Esau gee, ondersteun so ’n positiewe siening.

Die Jakobsiklus (aangedui as die tôlĕdôt van Isak in 25:19) word afgesluit24 deur ’n dubbele tôlĕdôt van Esau,25 wat 19 verse beslaan, naamlik 36:1–19. Dit word gevolg deur ’n bespreking van die oorspronklike inwoners van die land waarin Esau se nageslag woon (36:20–29), gevolg deur die name van die konings en 12 stamhoofde wat oor Edom regeer het (36:31–43). Hoewel daar noemenswaardige konings en stamhoofde in Edom (Esau se nageslag) sou voorkom (36:31–43), sou Israel (Jakob se nageslag) hom troef deur heerser oor sy broers te wees (27:29). Net deur opportunisme sal Esau aan die heerskappy van sy broer kan ontkom (27:40).

Anders as die geval met die nageslag van Abraham se byvroue, word landbesit van ’n gebied naby aan die beloofde land beklemtoon. Die indruk word gelaat van ’n groot nageslag. Esau het vantevore teenoor Jakob genoem dat hy genoeg besittings het (33:9). Daar is dus tóg vir Esau ’n ryke oorvloeiseën. Dit is egter nie hierdie verbondseën nie, want die oudste (Esau) sal die jongste (Jakob) dien (25:23). Die teks impliseer dat God uiteindelik groter heersers en stamvaders uit die nageslag van Jakob sal laat voortkom (Waltke 2001:488).26

Sailhamer (1992:204–205) wys daarop dat Edom in die latere geskiedenis van Israel ’n simbool word van die heidennasies wat deel aan die Messiaanse koninkryk sal kry (vgl. Ob v. 21). Dit is dus te verstane dat die ‘oorblyfsel van Edom’ (Am 9:12) in die Nuwe Testament toegepas kan word op die ‘oorblyfsel van die mense, ja al die nasies’ (Hand 15:17).

Oorvloeiseën van Jakob

Die 12 seuns van Jakob is die 12 stamvaders van Israel, sodat die seëninge bedoel is vir die stamme wat uit hulle sou voortkom. Van al 12 word gesê dat Jakob hulle op sy sterfbed geseën het, elk met sy besondere seën (49:28).

Tradisioneel word verwys na Jakob wat sy seuns seën, maar dan moet in ag geneem word dat dit ook ‘anti-seëninge’ insluit.27 Die uitsprake wat Jakob oor sewe van sy seuns maak, naamlik oor Ruben, Levi, Simeon, Issaskar, Dan, Gat en Benjamin is sulke ‘negatiewe seëninge’. Aan hulle word nie werklik םוֹלָשׁ belowe nie. Hulle word eerder bestraf, of geweld en ellende word beskryf. Ten opsigte van die oorblywende drie, Sebulon, Aser en Naftali, word slegs kort opmerkings gemaak, maar dit kan positief verstaan word.

Twee van die broers word uitgesonder, naamlik Juda en Josef. Hulle sal die heersers onder die broers wees. Die derde belofte van seën wat aan Abraham gemaak is (12:3a), geld spesifiek vir hulle. Hulle leierskapsrolle is egter nie bloot iets van die toekoms nie. Reeds in die Josefsverhaal (die tôlĕdôt van Jakob) word hulle leierskapsrolle duidelik:

  • Josef se broers het dadelik besef waaroor Josef se drome gaan, naamlik heerskappy: ‘Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers?’ (37:8). Dat Josef die heerskappy sou ontvang, word bevestig toe hy as grootvisier oor Egipte aangestel is – net onder die farao, sonder wie se toestemming niemand sy hand of voet in Egipte mag verroer nie (41:41–44). Uiteindelik moes Josef se broers voor hom kom buig (42:6).
  • Jakob sonder in sy seënspreuke Josef uit as vors28 onder sy broers (49:26; vgl. ook Deut 33:16). Die seën wat Josef ontvang, is van al die broers die mees omvattende en uitgebreide seën. Dit is seëninge wat dié van die ewige berge oortref (49:26).29
  • Juda: Genesis 38 en 49 hang saam binne die konsentriese patroon van die Josefsvertelling (Waltke 2001:21, 506). Genesis 38 skep die verwagting van ’n leierskapsrol vir Juda deur ’n hele subvertelling aan die verkryging van sy nageslag te wy. Genesis 49 verhaal hoe Jakob Juda se leiersrol met ’n seën bevestig. Jakob sonder vir Juda uit op sy sterfbed. Ook hý ontvang ’n omvattende en uitgebreide seën in vergelyking met sy broers. Ook hý sal heers. Juda is die leeu wat deur niemand opgejaag word nie (49:9). Die septer en heerserstaf behoort altyd aan hom (49:10a). Hy oortref Josef, wat die vors onder sy broers is, want volke sal hulle aan hom (Juda) onderwerp (49:10b).

In die sentrum van die konsentriese rangskikking van die Josefsverhaal, tree Juda na vore as die een wat homself in die plek van sy jonger broer Benjamin aanbied (43:8; vgl. 44:33) en wat as woordvoeder namens die ander broers voor Josef optree (44:14–34). In ’n sekere sin is Juda se pleitrede die hoogtepunt van die Josefsvertelling (vgl. Von Rad 1972:397). Juda is in beheer van die situasie, terwyl direk daarna gesê word dat Josef almal van hom wegstuur en in trane voor sy broers uitbars (45:1, 2). Die eintlike heerser is nie Josef nie, maar Juda. Juda is ook die een vir wie Jakob vooruitstuur tydens die familie se verhuising na Egipte (46:28).

Josef en Juda se nageslag vorm die kern van die latere noordelike en suidelike ryk – nie alleen wat politieke mag betref nie, maar ook ten opsigte van strategiese (territoriale) plasing binne die beloofde land. Die uitverkore geslag is eintlik Josef en Juda, totdat die makrovertelling aandui hoedat Josef verwerp word (vgl. Ps 78:67) en net Juda oorbly. Efraim (as verteenwoordiger van die noordelike ryk) verbeur uiteindelik die Here se םוֹלָשׁ. Juda verbeur dit ook bykans, maar ter wille van Dawid is daar hoop op herstel vir Juda (1 Kon 14:5; 2 Kon 8:19; 25:27–29).

Die heerskappy wat Josef en Juda volgens die Josefsvertelling ontvang, is heilbrengend. Dit bewerk םוֹלָשׁ. Dit skep geleentheid vir lewe soos die heerskappy van Josef in Egipte tydens hongersnood. In hom word volke van die aarde geseën.

Jakob se ander seuns en die stamme wat uit hulle voortkom, geniet eintlik die vrug van die םוֹלָשׁ wat die twee heersers sou bring. Hulle seën word uiteindelik ’n tipe oorvloeiseën ter wille van en by die grasie van Josef en Juda.

Oorvloeiseën van Juda en Josef

In Genesis 12–50 kom die motief van twee broers wat om die seën meeding telkens na vore. Hierbo is reeds na die Isak-Ismael-paar asook na die Jakob-Esau-paar verwys. In die nageslag van elk van Jakob se twee leidende seuns, naamlik Josef en Juda, word ook ’n broer-paar beskryf van wie die een onverwags die voorkeurseën ontvang. Die voorkeur van die jongste bo die oudste in die aartsvadervertelling, waarin God se vrymagtige verkiesing blyk, kom hier na vore (Helberg 1980:45, 57; Van Selms 1986:269):30

  • Vir Josef is twee seuns gebore, naamlik Manasse (die oudste) en Efraim (die jongste) (41:50–52). Josef het ook ander kinders gehad (48:6), maar hierdie twee word uitgesonder, aangesien Jakob hulle as sy eie aangeneem het (48:5). Hulle geld in die latere geskiedenis as die halwe stamme van Efraim en Manasse, wat elk ’n deel van die beloofde land geërf het. Teen die verwagting in, het Jakob vir Efraim bo Manasse, die eersgeborene, geseën en dit simbolies aangedui deur sy regterhand op die kop van Efraim te plaas. Efraim (wat later die leidende stam sou word) se nageslag word uitgesonder en sal groter as dié van Manasse wees (48:19b). Manasse ontvang egter ook ’n seën: Hy sal ook ’n volk word (48:19a). In ’n sekere sin ontvang Manasse ’n oorvloeiseën as troosprys.
  • Vir Juda is daar tweelingseuns uit Tamar gebore nadat hy drie ouer seuns by Sua gehad het waarvan die oudste twee gesterf het. Teen die verwagting in, is Peres eerste gebore, terwyl alle aanduidings was dat dit Serag moes wees (38:27–30). Soos by Jakob-Esau en Efraim-Manasse, kry hierdie broer van wie niemand dit sou verwag nie die voorrang, hoewel hier nie ’n uitdruklike belofte of seënspreuk ter sprake is nie. Koning Dawid, in wie die Here sy verbondsbeloftes sou bevestig en toespits (2 Sam 7), is uit die nageslag van Peres. Dit word uitdruklik gestel in Rut 4:12, 18–22 en 1 Kronieke 2:4–5, 11–15. Serag deel wel in die seën wat Juda sou ontvang, maar die eintlike seën word in Peres verwesenlik.
Assosiaatseën

Abraham ontvang seën sodat hy tot seën vir ander moet/sal31 wees (12:2c). Daardeur dui die derde seën aan dat seën oorvloei na ander mense. Abraham ontvang seën sodat ander daardeur seën sal ontvang.

Wat onvoorwaardelik in 12:2c gestel word, word in 12:3a voorwaardelik gestel. Daarvolgens word seën wat ander ontvang, bepaal deur die wyse waarop hulle met Abraham omgaan. Hierdie uitspraak word ook herhaal ten opsigte van Jakob (27:29), wat ook weerklank vind in Numeri 24:9. In assosiasie met die uitverkore geslag is daar seën, en in disassosiasie is daar ellende.32

Aangesien Genesis 11–50 die eie groep al hoe enger definieer (sien hierbo), sou ’n mens ’n vertelling verwag waarin die eie groep homself isoleer en selfs vyandig staan teenoor dié wat buite is – soortgelyk aan die situasie wat die boeke Josua en Esra-Nehemia berig. Die teendeel blyk egter in die vertelling. Die aartsvaders is figure wat ’n verhouding van seën, van םוֹלָשׁ, najaag met diegene rondom hulle.

Bloedverwant (relative, kinsman)

Twee gevalle word in Genesis 12–50 genoem waar bloedverwante (familie wat nie deel van die huisgesin of nageslag is nie) deel in die seëninge wat die aartsvaders ondervind:

  • Abraham het sy broerskind Lot saamgeneem. Die verwagting is dat Lot op die een of ander manier in die seëninge sou deel wat aanvanklik die geval was toe hulle gesamentlike besittings te veel was om by mekaar te bly (13:6). Nadat Lot weggetrek het, beklemtoon die Here dat die seëninge, spesifiek dié van die land en groot nageslag, slegs vir Abraham se nageslag geld (13:14–16). Abraham neem later deel aan ’n militêre veldtog om Lot te red (Gen 14) en pleit by die Here vir hom (Gen 18). Daar word egter geen seën uitgespreek of aangedui ten opsigte van Lot se nageslag, die Moabiete en Ammoniete, nie (vgl. 20:37, 38).33 In die latere geskiedenis is die Moabiete en Ammoniete twee volke met wie die Israeliete ’n bitter stryd gehad het (vgl. Deut 23:3).
  • Die patroon dat slegs die aartsvaders se nageslag blywende seën ontvang, word deur die geslagsregister van Nahor bevestig (22:20–24), waar geen sprake van seën ten opsigte van byvoorbeeld die Arameërs (22:21), vermeld word nie.
  • Jakob het vir sy skoonvader Laban gewerk. Deur sy toedoen het die bietjie wat Laban gehad het, baie geword. Hierdie seën wat Laban ondervind, is ’n aanduiding van die werking van die derde aartsvaderlike seën (om vir ander ’n seën te wees). Jakob se seën is ’n krag wat op sy omgewing ingewerk het (Westermann 1981:174). Jakob sê dat waar hy ook al gegaan het, waar sy voetspore ook al was, die Here Laban geseën het (30:30). Maar ook in Laban se geval is daar geen aanduiding dat die seën wat van Jakob af oorgevloei het, ’n blywende verskil gemaak het nie.

Die seën wat oorvloei, is in bogenoemde gevalle beperk tot die tyd van kontak met die betrokke aartsvader. Dit is in teenstelling met die sytakke van die aartsvaderlike linie (vorige hoofpunt), wat ’n oorvloei van die familieseën geniet het.

Dina en Sigem

’n Interessante geval is dié van Sigem, seun van die Hewiet Gamor, wat met Dina, dogter van Jakob, wou trou (Gen 34).

Die vertelling open met die mededeling dat Dina uitgegaan het om die dogters van die land te ontmoet (34:1). Dit dui daarop dat die aartsvader se familie nie in isolasie gelewe het nie.

Sigem het die ongetroude Dina onteer34 en dit lei tot onderhandelings tussen Sigem en Jakob se onderskeie families met die oog op ’n huwelik. Dit is opmerklik dat Sigem bereid was om ’n groot bruidsprys te betaal en te voldoen aan wat Dina se broers geëis het, naamlik dat almal in Sigem se stad besny moet word. Die inwoners van die stad het ingestem om aan hierdie voorwaarde te voldoen en só een volk met Jakob te word. Wat die deurslag gegee het, is Gamor en Sigem se argument: Hierdie mense onderhou ’n verhouding van םוֹלָשׁ met ons (וּנָ֗תִּא םֵ֣ה םיִ֧מֵלְֽשׁ) (34:21). Met ander woorde, Jakob se familie het ’n rekord gehad van geseënde verhoudinge met hulle bure.

Jakob se seuns, waarskynlik onder leiding van Simeon en Levi, het egter verraderlik opgetree en al die mans van die stad doodgemaak. Die rede wat hulle aangevoer het, is nie dat Sigem se mense heidene is nie. Die broers het eerder gemeen Sigem het hulle suster soos ’n hoer behandel (34:31).

Jakob se reaksie op die moord is dat sy seuns hom in onguns by die inwoners van die land gebring het (34:30). Simeon en Levi verbeur later Jakob se voorkeurseën vanweë die feit dat hulle manne van geweld is (49:2–7). Die hele vertelling oor Dina en Sigem is ’n afwysing van ’n insident waar Jakob se seuns tot vloek vir ander was. Die teenoorgestelde is egter nie waar nie: Jakob en sy gesin ontvang nie straf weens die onreg wat hulle pleeg nie, maar die Sigemiete ontvang ’n ‘anti-seën’. Op ’n ongewone manier word 12:3 aan die aartsvaders bevestig: ‘Ek sal hom vervloek wat jou minag’ (Wenham 1994:319).

Deelname aan burgerlike lewe

Genesis 12–50 skets die aartsvaders as mense wat aan die burgerlike lewe van die land deelneem op ’n wyse dat hulle vir ander tot seën is. Dié wat aan hulle goed doen, ondervind self seën. Dit kom na vore in sekere detail wat maklik oorgeslaan word wanneer die aartsvadergeskiedenis gelees word:

  • Daar is drie vertellings van ’n aartsvader wat tydelik binne die onmiddellike invloedsfeer van ’n vreemde heerser vertoef het en waar die heerser dan die aartsvader se vrou neem of wil neem, onwetend dat sy met die aartsvader getroud is (12:10–20, 20:1–17; 26:6–11). Telkens ondervind die heerser dan teenspoed of word hy daarteen gewaarsku. Wanneer die heerser die onreg omkeer en reg aan die aartsvader laat geskied, ondervind hy weer seën. Deur hierdie vertellings word die werking van die seën in 12:3 prakties geïllustreer: ‘Ek sal hulle seën wat jou seën, maar hom vervloek wat jou minag.’
  • Abraham het met ’n groep van 318 man ’n geallieerde mag onder leiding van Kedorlaomer naby Dan in die nag aangeval (14:14). Die doel was om sy broerskind Lot se besittings en mense te bevry (14:16). Abraham wou niks van die buit vir homself neem nie (14:21–24). Sy doel was bloot om םוֹלָשׁ te herstel:
  • Abraham se ontmoeting met Melgisedek (14:18–20) is enigmaties. Wat opvallend is, is dat Melgisedek koning van Salem was, waar die naam Salem ’n sinspeling op םוֹלָשׁ is. Melgisedek seën vir Abraham, maar Abraham gee aan hom ’n tiende van alles. Abraham beantwoord só die seën, deur Melgisedek self met gawes te seën.
  • Abraham pleit by die Here toe hy verneem dat die Here Sodom gaan verwoes (18:16–33). Hoewel sy broerskind Lot in Sodom woon, word Lot nie in die pleitrede genoem nie, maar slegs regverdiges (םיִקיִדַּצ). Abraham probeer die Here oorhaal om die stad nie te verwoes nie ter wille van so min as 10 regverdiges. Hy probeer om םוֹלָשׁ vir die stad te verseker wat die teenoorgestelde van verwoesting en dood is.
  • Abimelek sien raak dat God met Abraham is en gaan ’n verbond met Abraham aan (21:22–34). Deur Abraham se bemiddeling word die onregmatige afvat van die put by Berseba reggestel (21:25–30). In ’n soortgelyke vertelling kry Isak se skaapwagters stry met Abimelek se skaapwagters oor putte (26:18–22). Abimelek erken dat die Here met Isak is en sluit ’n verbond met Isak (26:26–30). םוֹלָשׁ word so herstel, want ons lees Abimelek is in vrede (םולָֹשְׁבּ) van Isak af weg (26:29, 31), wat hier selfs meer kan beteken as bloot behoue of veilig.35
  • Na Sara se dood koop Abraham ’n stuk grond wat die Makpelagrot insluit by Efron, seun van Sohar, die Hetiet (Gen 23). Die teks gee meer aandag aan die onderhandelings as aan die rou oor en begrafnis van Sara wat die onderhandelings omraam. Die teks getuig van Abraham se welwillendheid teenoor die bewoners van die land en hulle respek vir hom (Wenham 1994:126–127). Hulle erken hom as iemand van aansien (23:6),36 en hy dring daarop aan om die grond teen die volle markprys te koop (23:9).
  • Die Josefsgeskiedenis is in sy geheel ’n verhaal van Goddelike beskikking. Die broers wou Josef kwaad aandoen. God het dit in iets goeds omskep om sodoende ’n groot volk in die lewe te hou (50:19). Vloek is in seën omskep. Josef is die sentrale figuur wat tot seën is vir almal wat met hom in aanraking kom. Weens Josef het die seën van die Here op al Potifar se besittings gerus (39:5). Hy bestuur Egipte op so ’n manier dat hongersnood afgeweer word (41:42–57; 47:13–26). Waar Josef werk, is daar seën.
Universele seën

Tydens die tweede bevestiging van die aartsvaderlike beloftes aan Jakob, word belowe dat ’n versameling nasies (םִיוֹגּ לַהְק) van hom sal afstam (35:11). Die belofte dui nie bloot op ’n groot nageslag of op die stamme van Israel nie (Lee 2009:481–482), maar verwys na verskeie nasies wat van die aartsvaders sal afstam. In die lig van die genealogieë van Ketura, Ismael en Esau, kan die veelheid nasies letterlik verstaan word.

Soos reeds aangetoon, dra die veelheid nasies wat van die aartsvaders afstam egter nie self die aartsvaderlike seën voort nie. Hulle םוֹלָשׁ is aan die aartsvaderlike geslag gebonde soos dit uitgedruk word in die vyfde seën – die universele seën (12:3b; vgl. ook 28:14). Saam met al die geslagte van die aarde word hulle in Abraham (en sy nageslag) geseën.

Die vervulling van die universele seën word dikwels deur verklaarders na die verre toekoms verplaas, naamlik dat dit uiteindelik deur die Messias vervul sal word (bv. Lee 2009:482). Die rede daarvoor is dat die aartsvaders nie met al die geslagte van die aarde kontak gehad het of so ’n rol gespeel het dat al die geslagte deur hulle seën kon ontvang nie. Selfs in die res van die Ou Testament bly die seën wat van Abraham se nageslag aan ander volke uitgaan, baie beperk.

Tog is die םוֹלָשׁ wat die aartsvaders volgens Genesis 12–50 bring, sterk universeel gerig:

  • Abraham neem aan ’n veldtog teen ’n Mesopotamiese koalisie van konings deel tot voordeel van ’n aantal stadstate (Gen 14);
  • Abraham ontvang seën van die priester-koning Melgisedek en gee aan hom geskenke (14:17–20);
  • Abraham en Isak sluit ’n verbond met Abimelek wat as Filistyn aangedui word (21:27; 26:28);
  • Abraham ontmoet die koning van Sodom (14:7) en pleit uiteindelik vir die stad Sodom by die Here (18:16–33);
  • Abraham onderhandel oor ’n graf met Efron, die Hetiet (23:10–18); en
  • Josef word die tweede magtigste persoon in Egipte, die sterkste moondheid van daardie tyd (41:41), en tref maatreëls wat die behoud van menselewens van baie volke dien (41:47–49, 53–57).

Ongeag historiese vrae, byvoorbeeld oor die rol van Josef, is die boodskap van Genesis 12–50 duidelik: Die feit dat die Here een geslag uitkies, beteken nie isolasie nie. Die aartsvaders neem aan die burgerlike lewe deel en dra die םוֹלָשׁ van die koninkryke rondom hulle, wat verteenwoordigend van al die koninkryke op aarde is, op die hart. Naas die verbondsperspektief in die aartsvadergeskiedenis is daar dus ook ’n koninkryksperspektief. Deur die verbond met Abraham en sy nageslag bevestig die Here sy koningsheerskappy ten opsigte van die nasies.

Gevolgtrekking

Die feit dat Genesis 12–50 op ’n bepaalde uitverkore geslag fokus, beteken nie dat die seën wat aan die uitverkore geslag belowe word eksklusief is nie. Die aartsvaders het inderdaad nie net één seën nie. Die aartsvaders is heilsbrengend, םוֹלָשׁ-bewerkend vir mense wat binne die invloedsfeer van die verbondsgeslag beweeg. Seën vloei oor na die breër familie, maar ook na mense wat heeltemal buite die verbond staan.

Die werking van die oorvloeiseën is verskillend by die drie kategorieë wat onderskei is:

  • Daar is ’n oorvloeiseën vir nasate wat nie deel van die hooflyn van die verbond vorm nie. Dit is opmerklik dat by laasgenoemde slegs mindere seëninge geld en dat daar ook ‘anti-seëninge’ is wat eerder as vervloekings beskou kan word. Daar is nie ’n aanduiding dat die ontvangers van seën of hulle nageslagte vir ander seën sal bemiddel soos Abraham en sy nageslag nie (vgl. Seën 3 & 5). Dit is ook onwaarskynlik dat die teks verre nageslagte in die oog het by die oorvloeiseën aan verwante nasies.37 Die boodskap is telkens: As God sy beloftes aan hierdie ‘mindere kinders’ van die aartsvaders nakom, sal Hy soveel te meer dié beloftes hou wat hy met ’n eed aan die aartsvaders en hulle nageslag gemaak het (Wenham 1994:166, 342).
  • Daar is ’n oorvloeiseën vir persone met wie die aartsvaders assosieer. Die aartsvaders het aan die burgerlike lewe deelgeneem. Hulle word voorgestel as mense van aansien wat ’n seënryke verhouding (םוֹלָשׁ) met hulle bure nagestreef het. Daar is konstruktiewe interaksie met en invloed op mense buite die verbond. Daar is wel ’n grens aan die oorvloeiseën, naamlik dat dié wat die verbondsgeslag minag of vervloek, self vervloeking sal ondervind.
  • Daar is ook ’n oorvloeiseën aan vorste en konings van die omliggende volke. Die klimaks van die aartsvadergeskiedenis is waar Josef ’n heilbrengende rol in Egipte, die sterkste moondheid van sy tyd, speel. Daardeur word beklemtoon dat die verbond met Abraham en sy nageslag universele betekenis het.

Die gebrek aan vyandskap teenoor mense buite die verbondslyn is opvallend in Genesis 12–50. Daar is wel by Abraham en Isak ’n afwysing van huwelike met vreemde vroue, maar vreemde vroue word teen die einde van die aartsvadergeskiedenis by die verbond en sy seëninge ingesluit. Waar die teks wel na vyandskap verwys, word dit in die verre toekoms in die vooruitsig gestel of word dit afgewys. Abraham sal in םוֹלָשׁ sterf, terwyl sy nageslag verdruk sal word en die Here die nasies wat hulle verdruk, sal oordeel (Gen 15:13–15). Wanneer Jakob se kinders die Sigemiete vermoor, word die daad van vyandskap sterk veroordeel (Gen 34:30; 49:5–7).

Daarteenoor word die res van die Henneateug deur vyandskap tussen Israel en die heidenvolke gekenmerk. Heidenvolke moet uitgeroei word (Deut 7:16; 20:16; Jos 11:19–20). Israel is die skrik vir ander volke (Eks 15:14–16; Deut 2:25; 7:20; 11:25; Jos 2:9). Deuteronomium 20:10–11 maak wel voorsiening dat ’n heidenste stad gespaar kan word as die volk hulle aan die םוֹלָשׁ wat Israel aanbied, onderwerp. Daardie םוֹלָשׁ behels dat die inwoners van die stad Israel se dwangarbeiders sal word en dus veilig is binne die voorrang wat die Israeliete geniet.

By die latere profete en ook in die Nuwe Testament vind die oorvloeiseën van die aartsvadergeskiedenis besondere weerklank. Israel is tot lig en heil vir die nasies (Jes 11:10; 42:6; 49:6; vgl. Luk 2:30–32). Ongelowiges se eggenotes en kinders word geheilig ter wille van die gelowige in die huis (1 Kor 7:14). Gelowiges moet sover moontlik in vrede met alle mense leef (Matt 5:9; Rom 12:18; Heb 12:14).

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Alter, R.B., 2004, The five books of Moses, Norton, New York.

Arnold, B.T., 2009, Genesis, Cambridge University Press, Cambridge. (New Cambridge Bible Commentary).

Brown, M.L., 1997, ‘ךרב’, in W.A. VanGemeren (ed.), New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis, 1 (NIDOTTE), pp. 757–767, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Brueggemann, W., 1982, Genesis, John Knox, Atlanta. (Interpretation: A Bible commentary for teaching and preaching).

Clines, D.J.A. (ed.), 2011, The Dictionary of Classical Hebrew (DCH), Sheffield Phoenix Press, Sheffield.

Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.

Currid, J.D., 2003, Genesis Volume 1: Genesis 1:1–25:18, Evangelical Press, Darlington (EP Study Commentary).

DBLSD kyk Swanson.

DCH kyk Clines.

De Hoop, R., 1999, Genesis 49 in its literary and historical context, Brill, Leiden. (Oudtestamentiesche studieën, 219).

Gerleman, G., 1976, ‘םלשׁ – šlm – genug haben’, in E. Jenni & C. Westermann (Hrsg.), Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament, 2 (THAT), pp. 919–935, Chr. Kaiser Verlag, München.

Gesenius, W., 1910, Gesenius’ Hebrew grammar as edited and enlarged by the late E. Kautzsch, revised in accordance with the twenty-eighth German edition (1909) by A.E. Cowley (GKC), Clarendon Press, Oxford.

GKC kyk Gesenius.

Goldin, J., 1977, ‘The youngest son or where does Genesis 38 belong’, Journal for Biblical Literature, 96(1), 27–44. http://dx.doi.org/10.2307/3265325

HALOT kyk Koehler & Baumgartner.

Hamilton, V.P., 1990, The book of Genesis Chapters 1–17, Eerdmans, Grand Rapids, MI. (New International Commentary on the Old Testament).

Helberg, J.L., 1980, Die Here regeer: Openbaringslyn deur die Ou Testament, NG Kerkboekhandel, Transvaal, Pretoria.

Keller, C.A., 1971, ‘ךרב’, in E. Jenni & C. Westermann (Hrsg.), Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament, 1 (THAT), pp. 353–367, Chr. Kaiser Verlag, München.

Koehler, L. & Baumgartner, W. (eds.), 2000, The Hebrew and Aramaic lexicon of the Old Testament: Revised by Walter Baumgartner and Johann Jakob Stamm (HALOT), Brill, Leiden.

Lee, C-C., 2009, ‘םִיוֹגּ in Genesis 35:11 and the Abrahamic promise of blessings for the nations’, Journal of the Evangelical Theological Society, 52(3), 467–482.

Nel, P.J., 1997, ’םלשׁ’, in W.A. VanGemeren (ed.), New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis, 4 (NIDOTTE), pp. 130–135, Zondervan, Grand Rapdis, MI.

Paul, M.J., Van den Brink, G. & Bette, J.C. (eds.), 2004, Studiebijbel Oude Testament: Bijblecommentaar Genenis–Exodus, 1 (SBOT), Centrum voor Bijbelonderzoek, Venendaal.

Reventlow, H.G., 1977, ‘“Internationalismus” in den Patriarchenüberlieferung’, in H. Donner, R. Hanhart & R. Smend (Hrsg.), Beiträge zur alttestamentlichen Theologie: Festschrift für Walther Zimmerli zum 70. Geburtstag, pp. 354–370, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Sailhamer, J.H., 1992, The Pentateuch as narrative: A biblical-theological commentary, Zondervan, Grand Rapids, MI. (Library of Biblical Interpretation).

Scharbert, J., 1973, ‘ךרב’ in G.J. Botterweck & H. Ringgren (Hrsg.), Theologisches Wörterbuch zum Alten Testament, 1 (TWAT), pp. 808–841, W. Kohlhammer, Stuttgart.

Speiser, E.A., 1981, Genesis: introduction, translation, and notes, Doubleday & Company, New York. (The Anchor Bible, 1).

Stendebach, F.J., 1995, ‘םוֹלָשׁ – šālôm’, in H–J. Fabry & H. Ringgren (Hrsg.), Theologisches Wörterbuch zum Alten Testament, 8 (TWAT), pp. 12–46, W. Kohlhammer, Stuttgart.

Swanson, J.A., 2001, A dictionary of Biblical lanuages: Hebrew Old Testament (BBLSD), Logos Research Systems, Bellingham, WA.

Van Selms, A., 1979, Genesis deel 1, Nijkerk, Callenbach. (Prediking van het Oude Testament).

Van Selms, A., 1986, Genesis deel 2, Nijkerk, Callenbach. (Prediking van het Oude Testament).

Van Wolde, E.J., 2002, ‘Does ’innâ denote rape?: A semantic analysis of a controversial word’, Vetus Testamentum 52(4), 528–544. http://dx.doi.org/10.1163/156853302320764843

Von Rad, G., 1972, Genesis: A commentary, transl. J.H. Marks, SCM, London. (Old Testament Library).

Waltke, B.K., 2001, Genesis: A commentary, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Waltke, B.K., 2007, An Old Testament Theology: An exegetical, canonical, and thematic approach, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Wehmeier, G., 1971, ‘ךרב’, in E. Jenni & C. Westermann (hrsg.), Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament, 1 (THAT), pp. 367–376, Chr. Kaiser Verlag, München.

Wenham, G.J., 1987, Genesis 1–15, Word Books, Waco, TX. (Word Biblical Commentary, 1).

Wenham, G.J., 1994, Genesis 16–50, Word Books, Waco, TX. (Word Biblical Commentary, 2).

Westermann, C., 1981, Genesis; 2. Teilband, Genesis 12–36, Neukrichener Verlag, Neukirchen-Vluyn. (Biblischer Kommentar Altes Testament, I/2).

Footnotes

1. Verdere verwysings na die boek Genesis sal slegs met hoofstukke en verse aangedui word.

2. Die boek Genesis word algemeen in twee verdeel, naamlik Genesis 1–11 en 12–50 ten spyte van elemente wat die boek tot ’n geheel saambind soos die tôlĕdôt-formule. Genesis 11:27–32 kan op goeie gronde by die tweede deel van Genesis (12–50) ingesluit word, aangesien die tôlĕdôt van Tera (dit wil sê die Abrahamvertelling) in 11:27 aangekondig word.

3. Hoewel die teks voor 17:5 die naam Abram gebruik, word die naam Abraham deurgaans in hierdie artikel gebruik.

4. Die feit dat laasgenoemde nie saam met die eerste vyf beloftes gegee word nie, maak dit nie ’nminder belangrike of losstaande belofte nie (Wenham 1987:279–280). Trouens, die land is reeds in 12:1 as bestemming aangedui.

5. ’n Groot naam getuig van koningskap (Hamilton 1990:372–373). Die belofte word duideliker as daar aan Sara (17:16) en Jakob (35:11) gesê word dat konings uit hulle sal voortkom. Die verbond met Dawid hou ook in dat die Here sy naam groot sal maak (2 Sam 7:9). In die Ou Testament is dit gebruiklik dat persone in hoë posisies, veral konings, hulle onderdane seën (Scharbert 1973:820–821) – vergelyk die bysin by hierdie derde seën.

6. Die waw + imperatief van die bysin dui tipies op Verpligting (só in AFR83; vgl. Brueggemann 1982:119–120): sodat jy moet wees. Met alternatiewe volkalisasie of volgens GKC (1910:325; §110i) se verstaan van die waw + imperatief kan die bedoeling wees om Gevolg (Uitvloeisel) aan te dui: sodat jy sal wees (so ook Speiser 1981:85). Vir die beskrywing van koherensierelasies (bv. Verpligting, Gevolg) word by die taksonomie van Cotterell en Turner (1989) aangesluit.

7. Indien die werkwoord as הָיָה [perfektum] gevokaliseer word, is die veronderstelde onderwerp jou naam (ךֶָמְשׁ): sodat dit ’n seën sal wees. Die implikasie is dat Abraham as die aangesprokene (jy) self die onderwerp is. Daar kan egter met die vokalisasie הֵיְה (imperatief) volstaan word (vgl. Van Selms 1979:178; Westermann 1981:173–174) en dan is Abraham steeds die aangesprokene. Die alternatiewe vokalisasie maak nie wesenlik verskil in die betekenis nie.

8. Hierdie seën is ’n dubbele Voorwaarde wat eweredigheid uitdruk: As hulle jou seën, sal Ek hulle seën; as iemand jou minag, sal ek hom vervloek. Die tweede Voorwaarde is egter verrassend, naamlik dat die vloek sterker is as dit wat daartoe aanleiding gee, naamlik minagting.

9. Hierdie laaste seën is die klimaks in die reeks (Hamilton 1990:374; Lee 2009:471; Westermann 1981:172). Die patroon tot dusver van waw + imperfektum (kohortatief) word hier deurbreek. Die weqatal kan hier as Uitvloeisel (Gevolg) verstaan word of as Doel (Wehmeier 1971:369). In albei gevalle kan dit in Afrikaans vertaal word as sodat geseën sal word. As sodanig druk die bysin steeds ’n seën uit, naamlik die uiteindelike seën waarop die voorafgaande seëninge uitloop.

10. Die nif‘al van ךרב word verstaan as passief in betekenis, geseën word (die tradisionele vertaling, soos weerspieël in die Septuaginta en verskeie moderne vertalings asook in Arnold 2009:132; Brown 1997:759–760; Hamilton 1990:374–375; en Lee 2009:472) eerder as refleksief, seën soek/vind/verkry/sigself seën (so HALOT 2000:160; Keller 1971:364; Van Selms 1979:178; Wenham 1987:227–228; en Westermann 1981:175–176).

11. ’n Seënspreuk bring, soortgelyk aan die profetiese uitspraak, tot stand wat dit aankondig (De Hoop 1999:73). Seënspreuke het by uitstek werkingskrag (efficacy) in die aartsvaderlike vertellings (Brown 1997:760–761).

12. Waltke (2007:316) verbind seën (ךרב) met God as onderwerp aan ’n lewewekkende (procreative) verhouding met God waaruit veiligheid en oorwinning voortvloei. Vergelyk ook Keller (1971:355) wat die werkwoordstam verbind aan die totstandbring van heil of voorspoed (heilschaffende Kraft), asook Westermann (1981:172): krag van vrugbaarheid, groei en sukses.

13. Waltke (2007:317) verbind vloek (ררא) aan steriliteit, chaos, dood en die deurbreking van verhoudings.

14. Die term anti-seëninge word ontleen aan Waltke (sien voetnoot 21).

15. Hoewel die naamwoord םיִיַּח/יַח [lewe] in Hebreeus bekend is, word veral die werkwoord היח [om te lewe] in die aartsvadervertelling as inhoud van seën gebruik, byvoorbeeld 17:18; 27:40; 50:20.

16. In die aartsvadervertelling word םוֹלָשׁ 14 keer gebruik. Dit word vyf keer met ְבּ/ְל gebruik (15:5; 26:29, 31; 28:21; 44:17). Met ְבּ/ְל en ’n werkwoord van beweging dui die woord op behoue, veilig (HALOT 2000:1507–1508). Die ander voorkomste dui veral op voorspoed, welwese en goeie gesondheid (29:6; 37:14 [2x]; 43:23; 43:27 [2x] en 43:28), welwillendheid (37:4) en die goeie (41:16).

17. Sowel ןֵח as דֶסֶח kan op seën-as-inhoud dui, maar het gewoonlik ’n spesifieke klem. ןֵח kan op onverdiende guns of goedgesindheid dui (vgl. DBLSD 2001:2834; DCH III 2011:266; HALOT 2000:332) en דֶסֶח op dade van goedheid of getrouheid op grond van ’n belofte (vgl. DBLSD 2001:2876; DCH III 2011:277–281; HALOT 2000:336–337). Hierdie twee woorde figureer nie sterk in die aartsvadervertelling as aanduiding van ’n lewe van voorspoed nie.

18. Helberg (1980:58) koppel die kleinerwordende verbondskring aan ’n gebrek aan geloof by erfgename van die belofte en dat God aan iemand soos Jakob moes skaaf om hom ’n ware verbondskind te maak. Geloof is egter nie in die aartsvadervertelling ’n vooraf-voorwaarde vir insluiting in die verbond nie.

19. Van Selms (1986:75) merk, met verwysing na die seëninge en eise van die verbond, die volgende op: ’Al wat van Abraham geldt, geldt voor zin nageslacht’.

20. Brueggemann (1982:153, 183–184) gaan in sy redenasie verder en dui Ismael as buitestaander (outsider) aan. Omdat Ismael ’n sytak van die verbond verteenwoordig, is so ’n voorstelling ongeldig.

21. Currid (2003:432) beskryf die tôlĕdôt van Ismael as die afsluiting van die Abrahamsiklus by wyse van ’n ringkomposisie (inclusio). Dit is tipies in Genesis dat ’n vertelsiklus afgesluit word met materiaal wat die weg vir die volgende vertelsiklus voorberei (Wenham 1994:156, 160).

22. Vergelyk ook die twaalf stamvaders wat van Nahor (22:20–24) en Edom (36:10–14) afstam.

23. Of hierdie huwelik ná Sara se dood aangegaan is, is weens verskeie chronologiese opmerkings in die boek Genesis, onseker (Van Selms 1986:49; Waltke 2001:335).

24. Soos by die tôlĕdôt van Ismael (25:12–17), kan hierdie dubbele tôlĕdôt ook as aanloop tot die volgende vertelsiklus gereken word – in hierdie geval die tôlĕdôt van Jakob (Gen 37 e.v.; Van Selms 1986:171).

25. Soos by die tôlĕdôt van Ismael (25:12–17), word ’n geslag oorgeslaan wanneer die sylyn as die tôlĕdôt van Esau aangedui word. ’n Mens sou verwag dat Genesis 36 die tôlĕdôt van Jakob moes wees.

26. Brueggemann (1982:286–297), met verwysing na Reventlow (1977), sien daarin ’n universalistiese lyn naas die lyn van uitverkiesing in die aartsvadergeskiedenis. Dit is meer as wat die teks impliseer. Verder konsentreer Reventlow eerder op Genesis 19 as Genesis 36.

27. Waltke (2001:603; 2007:326) praat in hierdie verband van ‘anti-blessings’ en beskou dit steeds as seëninge binne die geheel van Israel se bestemming, aangesien dit as korrektief dien op die verkeerde dade van persone wat hierdie anti-seëninge ontvang. De Hoop (1999:71–74) wil die perikoop eerder as Jakob se testament tipeer, hoewel ’n breër definisie van seëninge wat ook vloeke insluit, min of meer op dieselfde neerkom.

28. ריִזָנ kan as vors (prince) vertaal word, maar dan in die sin van iemand wat afgesonder is (devotee, consecrated, set apart) (Alter 2004:289; HALOT 2000:683).

29. Die teks is hier onduidelik. Op voetspoor van Alter (2004:289) word die Septuaginta nagevolg.

30. Vergelyk Goldin (1977) in verband met die breër patroon in die Henneateug, waar God die oudste verbygaan ten gunste van die jongste, byvoorbeeld Isak, Jakob, Josef, Efraim, Moses, Gideon, Dawid en Jotam.

31. Verpligting of Gevolg – sien voetnoot 6 hierbo.

32. Assosiasie sluit nie noodwendig in dat mense Abraham en sy nageslag as die bemiddelaars van God se seëninge hoef te erken en moet bid dat God hulle voorspoed gee soos Waltke (2001:206) beweer nie.

33. Hierteenoor Brueggemann (1982:169) wat in 18:18 ’n verskuilde belofte van seën aan die Moabiete en Ammoniete sien.

34. Hoewel hy haar waarskynlik verkrag het (Alter 2004:188–189; Wenham 1994:311; sien daarteenoor Arnold 2009:295; Van Wolde 2002; Von Rad 1972:331), lê die klem op die sosiale vernedering (Van Selms 1986:152).

35. Sien voetnoot 16 in verband met die betekenis van םולָֹשְׁבּ.

36. Die uitdrukking םיִהלֱֹא איִשְׂנ word op verskillende maniere verklaar. Dit beteken letterlik ’n vors van God. Dit kan verklaar word as ’n vors met wie God is (Paul et al. 2004:221). Die woord םיִהלֱֹא word soms ook as superlatief gebruik sodat die uitdrukking ’n baie belangrike persoon kan beteken (Alter 2004:114; só in AFR83), ’n vors van formaat (Van Selms 1986:32). Albei interpretasies sluit aan by die derde seën in Genesis 12:2–3, naamlik Ek sal jou naam groot maak.

37. Brueggemann (1982:286) betrek byvoorbeeld die seën aan Esau op die Moslems wat hy as kinders van Esau aandui.



Crossref Citations

No related citations found.